Die Heilige Bybel - Afrikaans Bible

 

PSALMS

 

Hoofstuk 139

 

 

1.

 

Vir die musiekleier. 'n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.

    
 
 

2.

 

U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.

    
 
 

3.

 

U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.

    
 
 

4.

 

Want daar is nog geen woord op my tong nie -- of U, HERE, U ken dit geheel en al.

    
 
 

5.

 

U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.

    
 
 

6.

 

Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.

    
 
 

7.

 

Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig?

    
 
 

8.

 

Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar!

    
 
 

9.

 

Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon,

    
 
 

10.

 

ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.

    
 
 

11.

 

En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting,

    
 
 

12.

 

dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.

    
 
 

13.

 

Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef.

    
 
 

14.

 

Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed.

    
 
 

15.

 

My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde.

    
 
 

16.

 

U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

    
 
 

17.

 

Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God! Hoe geweldig is hulle volle som nie!

    
 
 

18.

 

Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand; word ek wakker, dan is ek nog by U.

    
 
 

19.

 

o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!

    
 
 

20.

 

Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef -- u teëstanders!

    
 
 

21.

 

HERE, sou ek die nie haat wat vir U haat, en 'n afsku hê van die wat teen U opstaan nie?

    
 
 

22.

 

Ek haat hulle met 'n volkome haat; vyande is hulle vir my!

    
 
 

23.

 

Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;

    
 
 

24.

 

en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!

    
 
 

PSALMS 140

 

 

 

 

 
 
HTMLBible Software - by johnhurt.com