| Chapter 6 |
1 | En as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie.
|
2 | Want Hy sê: In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil.
|
3 | Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie;
|
4 | maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede;
|
5 | in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly;
|
6 | in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde;
|
7 | in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter-- en linkerhand;
|
8 | deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig;
|
9 | as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie;
|
10 | as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.
|
11 | Ons mond het teenoor julle oopgegaan, Korinthiërs, ons hart het verruim geword.
|
12 | Nie in ons het julle dit te nou nie, maar in jul binneste het julle dit te nou.
|
13 | Maar by wyse van vergoeding -- ek praat soos met kinders -- moet julle ook verruim word.
|
14 | Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?
|
15 | En watter ooreenstemming het Christus met B‚lial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige?
|
16 | Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees.
|
17 | Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem;
|
18 | en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.
|